Sosialisme vorder fluks

Met Numsa aam die spits om ’n nuwe sosialistiese politieke party te vestig, is die koers van Suid-Afrika duidelik en doelgerig onderweg na kommunisme.

Dit is die mening van verskeie politieke ontleders na aanleiding van Numsa se aankondiging dat ’n nuwe politieke party gestig gaan word.

Politici in opposisiegeledere is dit blykbaar eens dat die nuwe party nie net die ANC verder links op die sosialistiese koers gaan dwing nie, maar kan ook so verdelend wees dat dit uiteindelik die politieke mag in Suid-Afrika oorneem,.

Numsa wil gedurende Desember vanjaar met hulle party se vestiging begin, en sal waarskynlik probeer om ’n ooreenkoms en aansluiting te vind met die Malema brigade.

Alhoewel Numsa nie vrywillig uit Cosatu sal tree nie, kan die vakverbond daarin slaag om Numsa uit te skop.

Cosatu is ANC-gekoppel, en sal waarskynlik alles moontlik doen om Numsa van sy rug af te kry.

Numsa se woordvoerders sê die vakbond stel hom ten doel om ’n sosialistiese “alliansie” te vorm om die ANC teen te staan.

Kenners meen dit kan die ANC dwing om self sy sosialistiese planne verder uit te brei, aangesien die eerste tekens daarvan reeds te bespeur is met die druk wat deur die EFF van Malema toegepas word.

Dr. Pieter Mulder van die VF Plus, voorspel  die verwikkeling as die voorspel tot algehele herskikking van die politiek wat ook nuwe druk plaas op pres. Zuma en die ANC.

Waarnemers meen die nuwe rigting van Numsa gaan lei tot ’n algehele skeuring in Cosatu, en ’n verbrokkeling in die geledere van swart politiek in die land.