So gaan jy meer betaal

Alhoewel die Minister van Finansies in sy mediumtermyn begroting aangedui het dat openbare inrigtings soos die Poskantoor, nie maklik gehelp gaan word nie, en dat ander besparings ingestel word, gaan belastingbetalers heelwaarskynlik ’n taai klap kry met die Februarie begroting.

Jy gaan aansienlik meer belasting betaal, want die enorme skuldlas waarin die land is, moet op een of ander manier afgelos word, en daarom sal die melkkoei tot die uiterste beproef word.

Die regering kort ’n addisionele R27 miljard om sy boeke te laat klop in die volgende 24 maande, en dit sal hy verhaal uit inkomste belasting, heffings en dalk koopbelasting verhoog.

“Die gevolge vir ekonomiese groei en werkskepping sal ’n belangrike oorweging wees,” in die bepaling van belasting koerse, en die mense kan verwag dat daar swaar geleun gaan word op die inkomste van die werkendes in die land.

Alhoewel die voedselpryse moontlik stadiger gaan styg, sal verbruikers tog voel dat die strop nouer span, aangesien die brandstofprys onvoorspelbaar bly.

Verbruikers is al erg bekommerd oor die neigings van Eskom tariewe, en dit gaan ’n beduidende invloed uitoefen op die beursie van alle verbruikers in die land, aangesien daar geen waarborge bestaan dat die Eskom tariewe onveranderd sal bly nie. Die kanse dat verbruikers se kragrekening gaan daal, is uitgesluit.