Skape blêr in slaapkamer

’n Vrystaatse vrou is in hegtenis geneem nadat ’n trop skape in ’n buitekamer op haar eiendom gekry is.

Sy kon nie ‘n bevredigende verduideliking aan die polisie gee waarom die twaalf skape in die kamer is nie. Die bed en klerekas in die kamer op haar eiendom in Thabong naby Welkom dui daarop dat dit eintlik as ‘n slaapkamer gebruik word.

Die polisie het beslag op die skape gelê. Hulle het die gebied deursoek en op nog vyf skape afgekom wat die nabygeleë veld gewei het.

’n Boer van Virginia het vroeër ‘n klag gelê dat 23 van sy skape gesteel is. Die sewentien skape wat teruggekry is, is positief uitgeken as sy eiendom. Dit is nie duidelik wat met die ander skape gebeur het nie.