Selfoonprater ry verkeersman dood

’n Verkeersbeampte is op die toneel dood toe ’n vragmotor op die N1 snelweg na Kroonstad op ’n ongelukstoneel teen hom vasgejaag het, en ’n tweede beampte daardeur ernstig beseer is.

Verkeersman Thabiso Nanoto is op die toneel dood en sy kollega verkeer in ’n kritieke toestand in die hospitaal.

Die verkeersbeamptes was besig om by ’n ongelukstoneel behulpsaam te wees toe hulle deur die vragmotor raakgery is.

’n Woordvoerder van die polisie het gesê die ongeluk het gebeur terwyl die vragmotor se bestuurder besig was met sy selfoon.

Die vragmotor het ’n polisievoertuig eerste getref, daarna die verkeersbeampte se voertuig, en toe die twee beamptes omgery.

Die vragmotorbestuurder is self ook in ’n ernstige toestand in die hospitaal.

Die polisie ondersoek die voorval en sal waarskynlik ’n klag van strafbare manslag teen die vragmotorbestuurder lê.