SABC se Tshabalala dop by Unisa

Die SABC-voorsitter Ellen Tshabalala het die meeste van haar Unisa-kursusmodules gedruip.

Hierdie getuienis sou kort gelede gedien het voor die portefeuljekomitee vir kommunikasie, maar Tshabalala se regsverteenwoordigers het ‘n hofbevel gebruik om ‘n ondersoek oor haar kwalifikasies nog verder op die lange baan te plaas. Ingevolge die bevel gaan die saak nou op 3 November in die hof voorkom omdat die parlementêre ondersoek glo nie ‘n regverdige dissiplinêre ondersoek sou wees nie.

Unisa het reeds bevestig dat Tshabalala nie ‘n B.Com of ‘n nagraadse kwalifikasie verwerf het soos sy in haar CV aangevoer het nie. Sy het aldus Unisa se hoof van regsdienste, Jan van Wyk, verskeie kere by die instansie geregistreer, maar het nooit enige kwalifikasie voltooi nie.

Ondanks hierdie gegewens gaan Tshabalala se regsverteenwoordigers voort om die ondersoek oor haar kwalifikasies ongeldig te laat verklaar.

Sy het al twee spertye gemis om haar kwalifikasies aan die parlement voor te lê. Politieke partye, waaronder selfs die ANC tel, is heel eensgesind om haar aan die pen te laat ry. Tshabalala en die SABC se hoof uitvoerende beampte, Hlaudi Motsoeneng,wat ook probleme omtrent vals kwalifikasies het, word egter blykbaar deur president Jacob Zuma beskerm.

Foto – Ellen Tshabalala