SA plofstof in IS-hande

Plofstof wat in Suid-Afrika vervaardig, en uitgevoer is na die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), het in die hande van die terreurgroep, Islamitiese Staat (IS), beland.

’n Aantal soldate is reeds gedood deur tuisgemaakte landmyne wat deur IS gemaak en geplant is, waarvan die plofstof uit Suid-Afrika afkomstig is.

Die plofstof wat op wettige wyse na die DRK uitgevoer is, was bedoel om in die mynbedryf van die DRK gebruik te word.

Deskundiges uit Suid-Afrika het van die landmyne ondersoek en gevind dat die plofstof wel van Suid-Afrika afkomstig is.

Soldate van die VN en van Suid-Afrika se lewens word nou bedreig deur die tuisgemaakte landmyne wat wyd verspreid begrawe is in die gebied wat deur IS magte as “bufferstrook” gebruik word.

Van die VN soldate wat reeds in landmyn ontploffings omgekom het, is afkomstig uit Tanzanië sowel as Kongolese soldate in diens van die VN.

’n Onbekende aantal soldate is ook beseer deur skrapnel van die landmyne.

Een landmyn wat deur ondersoekers uit Suid-Afrika opgespoor is, het byna 10 kg plofstof bevat, wat enige voertuig totaal kan vernietig as dit afgetrap sou word.

Soldate van die VN het intussen die geboue gevind waar die IS-magte die landmyne gemaak het. Toerusting soos weegskale, drukkastrolle, kragopwekkers en oorblyfsels van ammoniumnitraat is op die perseel gevind.

Die ondersoekers het ook bevind dat los stukke metaal in die landmyne geplaas word om die effek te verhoog, wat daarop dui dat die IS-magte hulp van buite hulle eie geledere ontvang het.

 

 

.