SA-broers in Amerika oor renosters aangekla

Twee Suid-Afrikaners word in Amerika daarvan aangekla dat hulle onwettige renosterjagtogte aan Amerikaners verkoop het en met renosterhorings handel gedryf het.

Dawie Groenewald en sy broer, Janneman, staan tereg op 18 aanklagte in Alabama wat verband hou met die verkoop van onwettige jagtogte op ‘n plaas in Messina in Noord-Transvaal.

Die twee broers is saam met tien ander mense in 2010 in Suid-Afrika vasgetrek.

Hulle het van 2005 tot 2010 jagekspedisies aan nege Amerikaners verkoop, waartydens renosters teen $15 000 elk geskiet is. Nie een van die jagters word vervolg nie omdat hulle glo deur die Groenewalds mislei is.

Na elke jagtog is die jagter by ‘n karkas afgeneem en Dawie Groenewald het dan die renoster se horings met ‘n kettingsaag en messe afgesny, aldus die klagstaat.

Alle renosterspesies word deur Amerikaanse en internasionale wetgewing beskerm.