SA-bewind skreiend skaamteloos

Die skandaal oor senior SABC-personeel se vermeende vals kwalifikasies is op die oomblik nuus in die internasionale media en dit is opvallend dat dit as ‘n simptoom van die Suid-Afrikaanse samelewing onder die ANC-bewind vertolk word.

Die voorsitter van die SABC-raad, Ellen Tshabalala, en die korporasie se hoof uitvoerende beampte, Hlaudi Motsoeneng, bly die afgelope tyd op die voorgrond in die voortslepende  ‘skaamtelose’ sages wat Suid-Afrika kenmerk.

Met verwysing na hierdie twee word die politieke kommentator en rubriekskrywer, Justice Malala, in die oorsese media soos volg aangehaal oor die kwessie: “hulle het daaroor gejok. Indien jy politieke konneksies het, kom jy daarmee weg”

“Jy het hierdie twee wat beskou word as die verdedigers van president Zuma by die SAUK, wat hulle bykans onaantasbaar maak. Vir my het die Zuma-administrasie mense toegelaat om hulle gevoel van skaamte te verloor – dat dit die regte ding is om te doen.”

Dan verwys die Afrika-korrespondent in die oorsese media daarop dat hierdie geskille oor kwalifikasies wyer uitkring na Jacob Zuma se hofsake, die kontroversiële wyse waarop korrupsie aanklagte teen hom laat vaar is voordat hy president geword het, die buitensporige opgraderings by sy privaatwoning by Nkandla met belastingbetalers se geld en die mening wat al hoe meer posvat dat Suid-Afrika se belangrikse instellings, waaronder die openbare beskermer se kantoor, uit hulle “vorm gerek en gestrek” word om Zuma te beskerm.