Rooftog op video vasgevang

Die CCTV-beeldmateriaal van ‘n rooftog by ‘n juwelierswinkel in Franschhoek is al meer as 22,000 keer op YouTube deur die publiek bekyk.

Niemand is egter nog in hegtenis geneem vir die rooftog wat drie weke gelede gepleeg is nie. Die video toon hoe ‘n groep rowers die winkel, “Tracey’s Diamonds” beroof, terwyl daar net drie winkelassistente teenwoordig is.

Twee welgeklede swartes, waarvan een ‘n sak oor sy skouers gehad het, het aanvanklik in die winkel gegaan. Drie ander mans met sakke oor hulle skouers probeer daarna toegang tot die winkel verkry, maar die suspisieuse assistente wil hulle nie die sekuriteitshek vir hulle oopmaak nie.

Een van assistente probeer een van die rowers in die winkel van agter vasvat, maar die ander een haal ‘n vuurwapen uit. Die deur word hierna vir ander rowers oopgemaak en hulle vul hulle sakke en ontvlug.

Sowat tien rooftogte het die afgelope drie weke by winkelsentrums in die Wes-Kaap plaasgevind.  Dit sluit ook die roof by die Paarl-winkelsentrum, waar die rowers deur die dak toegang tot drie winkels gekry het. Twee van die drie winkels verkoop elektroniese en veral selfone. Daar is 24 uur sekuriteit asook CCTV by die betrokke sentrum.