Rektor Jansen met langverlof

Prof. Jonathan Jansen, die beleërde rektor van die Vrystaatse Universiteit gaan glo vir drie maande in die VSA deurbring om aan sy nuwe boek te werk wat hy besig is om te skryf.

Jansen se langverlof is deur die Raad goedgekeur en waarnemende bestuurders is aangewys.

Politieke ontleders meen die verlof is toegestaan om die Universiteit intussen weer op die regte spoor te kry, veral in die lig van die afgelope jaar se talle insidente wat Jansen in omstredenheid gedompel het.

Gemoedere op die kampus het nog nie tot bedaring gekom nadat verskeie voorvalle plaasgevind het waar blanke studente blykbaar onregmatig van rassisme beskuldig is nie.

Jansen was in die moeilikheid na hy Cobus Muller en Charl Blom, van poging tot moord, aanranding en rassisme beskuldig het. Hy het die twee studente onregmatig geskors en daarna het ’n hof bevind dat beide onskuldig is op al die aanklagte.

Die onopgeloste geskil tussen Jansen en dr. Derek Swemmer, asook Swemmer se gade, vorm deel van Jansen se optrede wat nou wyd onder verdenking geplaas word.

Jansen het glo Swemmer se vrou, dr. Driekie Hay, geskors en daarna laat val dat sy eerder moet bedank.

Dit het groot ongelukkigheid veroorsaak op die kampus, en die gevoel het ontstaan dat Jansen eerder sy goed moet vat.

Intussen is bekend gemaak dat die Swemmer-egpaar besluit het om die Universiteit te verlaat.