Rebelle wil verkiesing hou in Oos-Oekraïne

Die twee pro-Russiese separatistiese gebiede, Dontesk en Loehansk beoog om oor die naweek ‘n verkiesing te hou om leiers en parlementslede te kies.

Rusland het intussen aangekondig dat hy die verkiesing wat in die selfverklaarde volksrepublieke van Donteks en Loehansk gehou gaan word, sal erken.

Dit is ‘n miskenning van die pas afgelope verkiesing in die Oekraïne en dui ook daarop dat die krisis wat amper ‘n jaar gelede begin het nog lank nie verby is nie, is die woedende reaksie van die Oekraïnse regering.

Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, het sy regering se planne in ‘n koerantonderhoud bekend gemaak en gesê: “ons verwag dat die verkiesing sal voortgaan soos ooreengekom en ons sal natuurlik die uitslae erken.”

Die Russe se aankondiging word deur die Oekraïnse owerheid beskou as ‘n ondergrawing van die Minsk-vredesooreenkoms wat onlangs tussen Rusland, Oekraïne en die separatiste gesluit is om die vyandelikhede in Oos-Oekraïne te beëindig.

Foto – Sergei Lavrov