Privaat steenkool-kragsentrales kan voortgaan

Dit het byna vier jaar geneem, maar die oprigting van private steenkool-kragsentrales wat 2,500 MW elektrisiteit aan die nasionale netwerk sal lewer, lyk asof dit uiteindelik sal kan voortgaan. 

Aanvanklik is gehoop dat die toestemming vir hierdie projekte reeds in 2011 sou plaasvind.

Die minister van Finansies, Nhlanhla Nene, het nou eers in sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk aangekondig dat die program vir onafhanklike kragprodusente uitgebrei sal word vir die oprigting van privaat steenkool-kragsentrales. 

Oorspronklik was die program beperk tot projekte vir hernieubare krag. Daar word gehoop dat die elektrisiteitskrisis wat die land in die gesig staar weens die vertragings met die bou van Medupi en Kusile, hiermee verlig sal word. 

Die kragsentrales sal vinniger gebou kan word aangesien dit tot 600 MW elk beperk word. 

Drie maatskappye in die Waterberge is gereed om met bouwerk te begin, maar alvorens daarmee begin kan word, moet ‘n krag-koopooreenkoms met Eskom aangegaan word. 

‘n Groot probleem wat nog aangespreek moet word is die skepping van ‘n onafhankliker koper van elektrisiteit. Dit sal egter beteken dat private kragopwekkers die nasionale kragwerk uit Eskom sal moet ontknoop. 

Hoewel dit deur die regering oorweeg is, is beoogde wetgewing hieroor eers op die rak geplaas aangesien dit uitgewys is dat so ‘n stap Eskom se geldsake nadelig sal beïnvloed.