Poskantoor stakers terug by werk

Sowat 75% van die stakende poskantoorwerkers is terug by die werk te midde daarvan dat die vakbond se jongste eis nog nie op die tafel van die poskantoor se bestuur beland het nie.

Die die meeste werkers wat aan die staking deelgeneem het, is verbonde aan die pos sorteer afdeling.

Na wat berig word, het die Communications Workers Union (CWU) ’n nuwe voorstel opgestel maar dit is nog nie by die poswese in ontvangs geneem nie. Intussen het die werkers begin terugkeer na hulle kantore.

Die staking wat sowat drie maande geduur het, was uiteindelik tot geen party se voordeel nie, en berge onafgelewerde posstukke sal in die komende maande weggewerk moet word.

Intussen het sakeondernemings en ander instansies hulle posisie heroorweeg en rekeninge, asook ander dokumentasie, per e-pos begin stuur na bestemming wat voorheen per slakkepos versend is.

Ontleders is van oordeel dat die staking se finansiële impak eers later sy tol gaan eis, aangesien miljoene posstukke voortaan net per e-pos versend gaan word, wat ook ’n koste besparing vir ondernemings is.

Die Vakbond het intussen sy eis van 15% met die helfte verminder na 7,5% en gevra dat dit terugwerkend vanaf April moet wees. ’n Verdere 8% verhoging word in die vooruitsig gestel vir 2015 .

Waarnemers meen die gesloer van die poskantoor kon vermy gewees het as hulle met konkrete gedagtes na die onderhandelingstafel gegaan het, wat beteken dat die staking hoogstens ’n week sou duur.