Oekraïne verkies Westerse bondgenote

Pro-Westerse partye sal na verwagting die pas afgelope verkiesing in die Oekraïne wen.

Die stemtellery is nog aan die gang nadat die verkiesing oor die naweek plaasgevind het. Volgens uitgangspeilings by die stemlokale lyk dit asof hierdie partye ’n weghol-oorwinning gaan behaal.

Die peilings toon dat president Petro Poroshenko se koalisieparty die voorloper is, maar net nie genoeg stemme het om ’n meerderheid te behaal nie. Dit beteken dat hy genoop sal wees om ‘n koalisie te vorm en sal dit waarskynlik met die Volksfront doen wat onder leiding van die eerste minister, Arseni Jatsenyuk, staan.

Politieke steun vir die Weste gaan egter ‘n groot uitdaging inhou vir Poroshenko ten opsigte van die pro-Russiese separatiste in die konflikgeteisterde Oos-Oekraïne. Hy gaan sukkel om inwoners te oortuig dat sy regering hulle belange op die hart dra. Die skeptisisme hieroor sal verder vererger word deur die feit dat  tot  soveel as 10% kiesers nie in hierdie deel en die geannekseerde Krim-gebied kon stem nie. Ondanks ‘n skietstilstand in Oos-Oekraïne kom daar steeds sporadies konflik voor en talle kiesers kon nie stem in die dele wat deur die rebelle beheer word nie.

Volgens die uitgangspeilings by stemlokale wil dit voorkom asof die pro-Russiese Opposisie Blok genoeg stemme gaan kry om ’n faksie in die parlement, bekend as die Verkhovna Rada, te vorm. Die Opposisie Blok sluit voormalige bondgenote in van die uitgeskopte president, Victor Janoekowitsj, wat in Februarie vanjaar gevlug het na bloedige opstande. Hulle sterk bande met die Oos-Oekraïne kan deurslaggewend wees in toekomstige onderhandelings met die Russiese president, Wladimir Poetin, en om die voorslepende konflik in die gebied te beëindig.

Die Vaderlandsparty van Julia Timosjenko en die populistiese Radikale Party van Oleh Lyashko sal waarskynlik ook verteenwoordiging in die Rada kry.

Foto – Petro Poroshenko