Nuwe reëls oor SA se plastieksakke

Besighede wat nie voldoen aan die  nuwe hersiene regulasies omtrent plastieksakke nie, kan in die pekel beland.

Die nasionale reguleerder vir verpligte spesifikasies sal kragtens die nuwe regulasies besighede besoek om seker te maak dat hulle die regte plastieksakke verkoop.

Een van die vereistes is dat ‘n plastieksak, wat vanaf 23 Oktober verkoop word, ‘n minimum dikte van 24 mikron moet hê.

Die reguleerder het in 2003 begin om spesifikasies in samewerking met die departemente van Omgewingsake en Toerisme te stel. Dit was bedoel om die rommelstrooiery van plastieksakke in die omgewing te verminder en die hergebruik en herwinning van plastieksakke te bevorder.

Te oordeel aan die magdom plastieksakke wat deur morsjorse rondgestrooi word, sodat dit lyk asof dit eintlik Suid-Afrika se nasionale blom is, het hierdie regulering heeltemal misluk.