Moordsyfer wys op ernstige knelpunte

Moordsyfer wys op ernstige knelpunte

Die steeds stygende moorde in Suid-Afrika wys nie net op ’n land wat aan terrorisme onderwerp is nie, maar dui ook daarop dat die regering die stryd teen misdaad verloor het, en dit nie weer in ’n vreedsame omgewing kan herstel nie.

Dit is die uitspraak van ’n voormalige polisieoffisier wat verkies om anoniem te bly, nadat dit bekend geword het dat die aantal moorde reeds die 17,069 merk verby is.

Dit is ’n styging van byna 4% teenoor verlede jaar, en maak Suid-Afrika die gevaarlikste land ter wêreld waar daar nie ’n “verklaarde” oorlog heers nie.

Die styging in moorde het nou so drasties gestyg dat dit raak aan ’n gemiddelde syfer van 50 moorde per dag. Dit is veel erger as wat in sommige oorlog geteisterde gebiede die geval is. Terwyl die wêreld skarrel om die ebola-krissis af te weer, swyg almal oor die gewelddadige en uiters wreedaardige wyse waarop mense in die land vermoor word, het hy gesê.

Hy sê iewers is ’n ernstige fout. As daar gekyk word na buurlande soos Botswana, waar die moordsyfer van die laagste in Afrika is, dan wonder mens of dit te make het met die feit dat die doodstraf nog toegepas word in daardie land.