Moorde destabiliseer Suid-Afrika:

Die donker prentjie omtrent misdaad in Suid-Afrika en spesifiek moorde dui op ‘n onstabiele Afrika-land.

Volgens kenners is die moordsyfer ‘n aanduider van ‘n land se stabiliteit en hoe hoër dit is, hoe meer onstabiel word ‘n land gereken.

Misdaadstatistiek, hoewel maar net gebaseer op SAPD-syfers, en die derduisende polisiebeampte wat die ANC-bewind se politici beskerm, is al klaar genoeg rede tot groot kommer oor hierdie stabiliteits faktor.

Die hewige reaksie van regeringskant op die Bafana-Bafana kaptein, Senzo Meyiwa, se moord en die swaard wat hang oor die hoofde van boere wat twee van die mnr. Johan Janse van Rensburg se moordenaars doodgeskiet het, noodsaak ‘n heropweging van die harde misdaadfeite tot Suid-Afrikaners se beskikking.

Meer as 5,000 polisiebeamptes beskerm president Jacob Zuma, sy 35 ministers en 37 adjunkministers en hulle huise.

In die lae intensiteit misdaadoorlog in Suid-Afrika is 17069 mense van Maart 2013 tot Maart 2014 vermoor. Dit is 809 meer as gedurende die vorige tydperk waartydens die SAPD misdaadstatistiek vrygestel het.

Suid-Afrika se jongste beskikbare moordsyfer is vyf keer hoër as die gemiddelde wêreldkoers van 6 moorde per 100,000 mense.

Luidens ’n internasionale studie deur die Verenigde Nasies verlede jaar, was Suid-Afrika die land met die agtste hoogste moordsyfer per 100,000 mense.

Byna 50 moorde word gemiddeld per dag in Suid-Afrika gepleeg.