Misdadigers skotvry, swak polisiewerk

Slordige ondersoekwerk deur die polisie en die algehele ineenstorting van misdaadintelligensie het gesorg dat honderde vermeende misdadigers in Sentraal-Transvaal skotvry daarvan afgekom het.

Sodoende kon die verdagtes en sindikaatlede maar net met hulle misdaadbedrywighede voortgaan.

Bykans 1,500 dossiere is weens swak ondersoekwerk in die afgelope finansiële jaar gesluit.

‘n Oudit van die betrokke dossiere het ernstige leemtes in die ondersoekwerk uitgewys. Een van die bevindinge was dat daar ‘n minimale poging was om verdagtes te verbind met ander misdade wat gepleeg is.

 

Die departement van gemeenskapsveiligheid in Sentraal-Transvaal se jaarverslag vir 2013/14 het aangetoon dat weinig van die onderskeie gestelde teikens bereik is. So is daar byvoorbeeld nie een van die 550 geteikende Gemeenskapspolisie Forums deur die polisie bemiddel om te kan funksioneer nie.