Mega-reklame laat Steve floreer

Die gewilde sanger en aktivis, Steve Hofmeyr, bly in die spervuur oor sy uitlatings dat swartes die eintlike argitekte van apartheid is, en wat verkieslik in die hele konteks van sy oorspronklike Twitter-boodskap daaroor gelees moet word.

Hierdie keer het die buikspreker en komediant, Conrad Koch, sy rubriek getiteld, “Dear white supremacists…”, in The Times  gebruik om die borgskappe van Pick n Pay en Land Rover vir die “Afrikaans is Groot”-fees in gedrang te bring en om sodoende vir Steve te probeer pakslae gee.

Pick n Pay het hom nie in die “white supremacists“- vendetta laat insleep nie en het onder meer in sy reaksie gesê hy is ‘n gekontrakteerde borg van AIG en ondersteun Afrikaanse musiek, nie individue nie. Voorts is gesê dat die maatskappy nie betrokke is by die geleentheid se bestuur of die keuse van kunstenaars nie.

Kommentaar van Land Rover SA was glo nie onmiddellik beskikbaar nie

Die trant waarin Steve se Twitter-boodskappe deur bepaalde media weergegee word, laat glad nie veel aan die verbeelding oor nie. Die rede waarom sy aktiwiteite op die sosiale netwerke in hierdie kringe gevolg word, is eweneens net so duidelik in die hele veldtog.

Hofmeyr het onlangs ‘n geborgde bakkie ‘n dag vroeër as beplan aan Williams Hunt in Port Elizabeth teruggegee nadat die onderneming hom deur die vendetta laat meesleur het.

Steve tree Saterdag 1 November op in die Afrikaanse musiekfees by die Voortrekkermonument.