Khama weer Botswana se president

Botswana se president Ian Khama is vir ‘n tweede termyn herkies nadat sy party volgens voorlopige uitslae die meeste stemme in die pas afgelope verkiesing gekry het.

Sy Botswana Demokratiese Party (BDP) het 33 van die 57 parlementêre setels gekry.

Die verwagting was dat die BDP die meeste mededinging nóg in sy lang geskiedenis van opposisiepartye sou kry. Die BDP se meerderheid van 79% in 2009 sal na verwagting daal  weens ‘n groeiende gevoel van ontevredenheid onder die jonger geslag en die stedelike middelklas wat meen ‘n politieke verandering is noodsaaklik aangesien die BDP bykans al vyf dekades aan bewind is.

‘n Koalisieparty, die Sambreel vir Demokratiese Verandering (SDV) het vir die eerste keer aan ‘n verkiesing deelgeneem en het tot dusver 14 setels verower. Die amptelike opposisie van die Botswana Kongresparty (BKP) onder leiding van Dumelang Saleshando het slegs twee setels gekry. Agt setels moet egter nog verklaar word.

Nog ‘n konkurrent wat deelgeneem het, was die Botswana Beweging vir Demokrasie (BBD) wat ‘n splinterparty gevorm het nadat dit in 2010 van die BDP weggebreek het.

Foto – Ian Khama