Grace Mugabe wil Zim-diktator opvolg

Zimbabwe se presidentsvrou, Grace Mugabe, het amptelik aangekondig dat sy beoog om haar 90-jarige man op te volg sodra hy uittree.

Sy het terselfdertyd ‘n ultimatum aan die adjunk-president, Joice Mujuru,  gestel om te bedank of om optrede van die massas teen haar te verwag. Hierdie dreigement sal waarskynlik deur die sogenaamde oorlogsveterane uitgevoer word.

Sy het te midde van haar veldtog om Mujuru verdag te maak, haar onder meer daarvan beskuldig dat sy probeer om Robert Mugabe uit die kussings te lig.

Daar is ‘n geruime tyd al aanduidings dat sy haar man gaan opvolg wat al sedert 1980 aan bewind in die buurstaat is. Haar politieke aspirasies blyk onder andere uit die feit dat sy onlangs as die hoof van die regerende Zanu-PF  se vroueliga aangewys is.

Haar prestige is ook ‘n verhoog deur ‘n doktorsgraad wat die Universiteit van Zimbabwe kort gelede aan haar toegeken het, slegs twee maande nadat sy by die instansie ingeskryf het.  Die episode het egter tot openlike bespotting en gebelgdheid gelei.