Goeie kragnuus vir Vrystaatse dorpe

Inwoners van drie Vrystaatse munisipaliteite het die goeie nuus gekry dat Eskom tevrede is met die vordering wat gemaak is met voorstelle om agterstallige elektrisiteitskuld af te betaal.

Die drie munisipaliteite sluit Ngwathe (Parys, Heilbron en omstreke), Dihlabeng (Bethlehem en Clarens) en Maluti-a-Phofung (Harrismith, Qwaqwa en Kestell) in.

Verskeie staatsdepartemente werk baie nou met die drie munisipaliteite saam, het ‘n woordvoerder van Eskom, Andrew Etzinger, gesê. Die ministers van die onderskeie departemente moet nou nog net die planne deurgaan en goedkeur.

Eskom het vroeër vandeesmaand kennis gegee dat hy die elektrisiteitstoevoer na die dorpe gaan afsny weens die munisipaliteite se agterstallige skuld van R736 miljoen en die feit dat hulle Eskom steeds nie betaal nie.

Die afsnyding van die kragtoevoer is egter hierna op die nippertjie afgeweer na ‘n vergadering waarby die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown en die minister van samewerkende regering, Pravin Gordhan, betrokke was.