Geluk aan boere vir flinke optrede

TLU SA wil die boere van Leeudoringstad in Wes=Transvaal gelukwens met hulle optrede wat daartoe gelei het dat twee moordenaars van ‘n boer self met hulle lewe daarvoor moes boet.

TLU SA se Adjunk-President en voorsitter van die veiligheidskomitee, mnr. Henry Geldenhuys, het terselfdertyd sy ernstige misnoeë uitgespreek met die feit dat van hierdie moordenaars wat mnr. Johan van Rensburg vermoor het, skynbaar al voorheen vir 15 jaar tronk toe gestuur is vir gewapende roof. “Iets is verkeerd in die stelsel dat gevonniste misdadigers voortydig en boonop  ongerehabiliteer op borgtog  in die samelewing teruggeplaas word om met hulle duiwelswerk voort te gaan. Dit is onaanvaarbaar vir die gemeenskap en is ‘n klad op die Staat se regsplegende instellings. Strawwe moet so swaar wees dat misdadigers op hoë ouderdom met ‘n kierie uit die tronk kom, sodat hy eenvoudig nie in staat is om weer misdaad te kan pleeg nie,” sê mnr. Geldenhuys.  Terselfdertyd is mnr. Geldenhuys bekommerd oor bespiegelinge dat van die boere dalk vir moord aangekla en selfs gearresteer kan word. “Hulle het net hulle eie mense en gemeenskap probeer beskerm en waarmee hulle suksesvol was. Om daardie mense nou te vervolg sal ‘n totaal verkeerde boodskap uitstuur aan misdadigers.”

“Hierdie voorval het egter bewys dat landelike gemeenskappe hoogs effektief kan wees as hulle georganiseerd is in hulle eie plaaswagstelsels, met hulle eie kommunikasie- en reaksievermoëns. TLU SA wil boere bly aanmoedig om ter wille van hulle eie veiligheid hulleself in plaaswagte te organiseer.”