Frelimo bly in kussings

Mosambiek se regerende party, Frelimo, het die pas afgelope verkiesing in die land met ‘n verminderde meerderheid gewen.

Frelimo se kandidaat, Filipe Nyusi, het die presidensiële verkiesing met 57,3% stemme gewen. Dit is heelwat minder as die 75% wat sy voorganger, Armando Guebuza, in 2009 gekry het.

Afonso Dhlakama van Renamo het sy stempersentasie van 36,6% verbeter wat ‘n toename is in die party se 16,5%-steun in 2009. Mosambiek se Demokratiese Beweging se steun het egter na 6,4% (van 8,6%)  gedaal.

Renamo het ‘n amptelik klag by die verkiesingskommissie gelê oor beweerde onreëlmatighede tydens die verkiesing. Frelimo is al sedert 1975 aan bewind in die land, waar ‘n uitgerekte burgeroorlog van 16 jaar tussen Frelimo en Renamo tot groot verwoesting en verarming gelei het.

Altesaam 49% kiesers het in die verkiesing op 15 Oktober gestem.

Foto – Filipe Nyusi