Ebola sterftes styg drasties

Alhoewel die woordvoerders van die Wêreld  Gesondheidsorganisasie (WGO)  se inligting daarop dui dat die sterftes in Wes-Afrika reeds die 5,000 merk oorskei het, is waarnemers van oordeel dat die syfer aansienlik hoër is.

Dit is reeds vasgestel dat meer as 10,000 mense in Wes-Afrika reeds met die gevreesde virus besmet is, en ingeligte waarnemers sê die sterftesyfer kan reeds verby die 5,500 wees.

Die korrekte syfer is moeilik bepaalbaar aangesien ’n groot aantal mense is Guinee, Siërra Leone en Liberië hoofsaaklik in afgeleë geboiede woon waar die rekordhouding uiters swak is.

Volgens die WGO se gegewens het die sterftes Woensdag op sowat 4,900 te staan gekom in die drie lande.

Medici wat die toestand moniteer is van mening dat die virusbesmetting ’n veel groter gevaar kan word as wat MIV-vigs wat reeds derduisende mense se lewens geëis het.

Terwyl navorsing in verskeie lande gedoen word om ’n teenmiddel te kry, is daar tot hede geen geregistreerde produk wat suksesvol aangewend kan word om mense se lewens te red nie.

Tot hede het slegs sowat 10% van alle besmette mense, herstel en die dood vrygespring.

Die entstof wat in Kanada ontwikkel is, is na Genève gestuur om te toets met die hoop dat dit as geneesmiddel gebruik kan word.

Soortgelyke toetse word ook in Duitsland gedoen.