Die Speaker word werwer

Die parlement se speaker, Baleka Mbete, het die afgelope naweek haar “onpartydigheid” probeer verduidelik toe sy gekonfronteer is oor haar werwingsaksie om nuwe lede vir die ANC bymekaar te skraap.

Sy sê dit is geen oortreding om vir jou eie politieke party te gaan stemme werf nie, al is jy die speaker van die parlement.

Mbete se optrede as onpartydige speaker kom telkemale onder die spervuur van opposisielede wat ontevrede is met haar beslissings.

Een van die belangrikste klagtes teen haar as speaker van die parlement, is die feit dat sy ook die ANC se ANC se nasionale voorsitter is.

Opposisiepartye teken gereeld beswaar aan oor haar omstrede beslissings. Selfs die EFF het by geleentheid die beskuldiging geopper dat sy haar instruksies uit Luthuli-huis ontvang, en dit nougeset uitvoer.

Mbete is die afgelope naweek opgemerk waar sy in die stofstrate van die Grabouw lokasie besig was om saam met ander, stemme te werf vir die komende tussenverkiesing in die gebied.

Sy het gesê sy doen dit en het nie nodig om aan enige iemand te verduidelik nie, maar later was dit opvallend dat niemand van die inwoners geweet het wie sy is nie.

Foto – Baleka Mbete