Chinese vlug weg vir ebola

Die Voortrekkermonument (VTM) word aansienlik minder besoek sedert die uitbreek van ebola, sê ’n woordvoerder van die Monument.

Sonja Lombard, die Besturende Direkteur van die wêreldbekende Voortrekkermonument in Pretoria, sê dat Chinese besoekers met soveel as 90% gedaal het uit vrees vir besmetting deur die ebola-virus.

Volgens haar kan die Chinese nie onderskei tussen die besmette Wes-Afrika, en Suid-Afrika nie.

Sowat 25% van alle besoekers aan die Monument is Chinese, en in die gewone gang van sake besoek sowat 50% van alle Chinese toeriste na Suid-Afrika, die Voortrekkermonument.

Die VTM se webblad is ook in Chinees vertaal, wat verklaar waarom so baie toeriste uit China besoeke bring by die monument.

Besoekers uit Europa neem jaarliks toe, en vanjaar is ’besonder baie mense uit die Europese lande ontvang.

Lombard sê die VTM het verlede jaar nie die volle bedrag van die Departement Kuns en Kultuur ontvang wat aan hulle toegesê is nie, en R359,000 is nog steeds uitstaande terwyl die jaar 2014 al vêr gevorder het.

Sy wys daarop dat die Departement se nalatigheid om hulle verantwoordelikheid na te kom teenoor VTM, asook die dalende getal besoekers sal meebring dat ’n verwagte verlies van sowat 30% getoon sal word.