26 dokters reeds weg by Universitas.

Nadat 26 dokters die afgelope jaar by die Akademiese Hospitaal Universitas in Bloemfontein bedank het, is die hoofamptenaar van die hospitaal, dr. Sehularo Gaelejwe op spesiale verlof geplaas. 

Die stap is hangende ‘n indiepte-ondersoek teen hom om te kyk of hy opgewasse vir sy pos is. 

Prof. Vernon Louw, bekende hematoloog en hoof van die departement interne geneeskunde van die skool van geneeskunde aan die Universiteit van die Vrystaat, is die 26ste hoogs gekwlifiseerde dokter wat die afgelope jaar bedank het. 

Gerugte wil dit hê dat meer dokters gereed staan om te bedank. Die rede vir bedankings word vierkantig voor die deur van Gaelejwe gelê. 

Nie net is daar klagtes van viktimisasie en vooroordeel nie, maar die gedurige en nypende tekort aan toerusting en medisyne maak die dokters se taak onmoontlik. 

Louw was vroeër vanjaar dissiplinêr aangekla oor spoedlyste wat in Afrikaans en Engels was, terwyl dit volgens Gaelejwe net in Engels moes gewees het. Die ergste vir Louw egter was die dood van Frank Matthysen (68) van Welkom wat nie dienste by Universitas-hospitaal se kardiologie-afdeling kon kry nie.

Nie net was die hartkateterisasie-teater by Universitas gesluit nie, maar geen gekwalifiseerde kardioloog was aan diens nie. Gaelejwe wat glo opdrag gegee het dat slegs hy toestemming mag gee dat pasiënte na die Life-Rosepark-hospitaal oorgeplaas kan word, was ook nie beskikbaar nie., gevolglik het Matthysen gesterf.

Foto – Prof. Vernon Louw