Weermag kry bloedneus

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag word nou die spot van die land vir hulle vreemde optrede en verloor-kultuur wat besig is om ’n alledaagse te word.

Dit is die mening van ’n voormalige Weermagoffisier na aanleiding van die jongste hofsaak wat hulle verloor het in die Bloemfonteinse Appèlhof.

Hierdie keer het die Weermag bloedneus gekry met sy poging om op omstrede wyse van sowat 660 soldate ontslae te raak wat tans op spesiale verlof is.

Regter Wallis het in die appel-hofsaak beslis dat die Weermag hoegenaamd nie die korrekte proses gevolg het toe die soldate in koerantadvertensies aangesê is om by hul onderskeie eenhede aan te meld vir diens nie.

Volgens die regter se uitspraak, is die Minister van Verdediging, se aansoek met koste van die hand gewys.

Adv. Pikkie Greeff, Sanwu sekretaris, sê die SA Weermag het die afgelope vyf jaar sowat R7 miljoen per maand aan salarisse en voordele vir die soldate opgedok terwyl hulle by die huis sit.

Hy sê die Weermag probeer al sedert 2009 optree teen die sowat 1,000 soldate wat dié dag aan ’n onwettige getoi-toi betoging naby die Uniegebou deelgeneem het,  maar bly hulle betaal terwyl hulle heerlik by die huis sit en niks doen.

Die Weermag wou hulle terug roep na hulle eenhede deur middel van ’n koerantadvertensie, maar die hof het beslis dat dit nie die korrekte prosedure is wat gevolg moet word nie.

Van die honderde soldate wat deelgeneem het aan die betoging, is sowat 70 aangekla en skuldig bevind.

Ingeligte waarnemers meen die Weermag se swak optrede in die DRK, en die gepaardgaande lewensverlies tydens ’n vredesoperasie, tesame met die hofsake wat telkens verloor word teen hoë koste, asook die finansiële agteruitgang, is alles ’n toonbeeld van ’n verloor-weermag.