Tweede Amerikaanse joernalis onthoof

Die Islamitiese militante groep, IS (ook bekend as Isis of Isil), het ‘n video bekend gestel waarin die onthoofding van ‘n tweede Amerikaanse joernalis, Steven Sotloff, vertoon word.

Dit volg kort op die hakke van ‘n video wat aan die wêreld vertoon is oor die Amerikaanse foto-joernalis, James Foley, se onthoofding. Sotloff is op ‘n stadium saam met Foley vertoon en verskeie dreigemente is vooraf gemaak dat hulle onthoof sal word.

Sotloff (31 jaar) is sowat ‘n jaar gelede deur Isis in noordelike Sirië gevangene geneem en ontvoer. Alhoewel die owerhede nog nie teregstelling bevestig het nie, het sy gesin in ‘n verklaring gesê hulle glo dat hy doodgemaak is.

Sotloff word in die video getoon, waar hy net soos die vorige slagoffer, James Foley, kniel terwyl ‘n gemaskerde laksman bo hom uittoorn met ‘n mes in sy hand. Sotloff is gebruik as spreker om te sê dat hy “die prys betaal” vir die Amerikaanse president, Barack Obama, se besluit om toe te slaan op IS in Irak en Sirië.

‘n Gemaskerde man met ‘n Britse aksent, soortgelyk aan die vermomde persoon in die Foley-video, kondig hierna aan: “Ek is terug, Obama, en ek is terug weens jou arrogante buitelandse beleid teenoor die Islamitiese Staat.”

Die video oor Sotloff se teregstelling is vrygestel kort voordat Obama na Europa vertrek het vir die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie se beraad. Sy regering worstel oor die hantering van die kwessie. Tot dusver het Amerika net lugaanvalle in Irak uitgevoer, maar sal dit moontlik na Sirië uitbrei om IS te probeer beveg.

Intussen word berig dat ‘n volkskaalse volksmoord in noordelike Irak uitgevoer word, waar mense net met die klere aan hulle lyf vlug om van IS-lede se teregstellings in die naam van hulle ekstremistiese geloof te ontkom.

Foto – Steven Sotloff voor onthoofding