Swede vorm nuwe regering

Die Sweedse eerste minister, Fredrik Reinfeldt, gaan uittree nadat sy koalisie-regering die pas afgelope verkiesing in Swede verloor het.

Die Sweedse Sosiaal Demokrate sal onder leiding van Stefan Lofven ‘n nuwe koalisie moet vorm omdat sy party nie ‘n definitiewe meerderheid kon behaal nie. Sy party, wat in die sogenaamde sentrum linkse blok val, het 43,7% gekry en Reinfeldt se Gematigde Party het 39,3% steun behaal. Die regse Sweedse Demokrate onder leiding van Jimme Akesson het 13% stemme gekry en is nou die derde grootste party in die regering.

Hoewel die Sosiaal Demokrate die grootste party is, word dit as die swakste verkiesinguitslae die afgelope eeu beskou. Die sentrum linkse blok se oorwinning laat hulle met ‘n swak minderheidsregering. Lofven het egter reeds aangedui dat hy nie beoog om met Akesson se Demokrate saam te werk nie.

Moeilike uitdagings sal deur die nuwe regering die hoof gebied moet word aangesien ernstige onsekerheid in Swede heers oor ekonomiese kwessies en derduisende volksvreemde asielsoekers stroom die land binne. Nagenoeg 80 000 vlugtelinge word vanjaar uit Sirië verwag en sal die Sweedse welsynsdiens en die belastingbetalers se las vererger.

Foto – Fredrik Reinfeldt