Staatsgreep dreig in Zimbabwe

‘n Staatsgreep bly ‘n moontlikheid in Zimbabwe  weens die ernstige ekonomiese probleme waarmee die land worstel.

Die waarskuwing is uitgereik deur ‘n burgerregte organisasie oor ‘n moontlike militêre opstand indien die regering nie soldate se salarisse betaal nie.

Volgens “Crisis in Zimbabwe Coalition” se voorsitter, Dewa Mavinga, kan die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) hom regmaak vir ‘n soortgelyke katastrofe as in Lesotho.

‘n Zimbabwiese koerant het berig dat president Robert Mugabe se volgehoue magsgreep op die land ontevredenheid en chaos kan veroorsaak. Die feit dat Mugabe besig is om sy vrou, Grace, voor te berei om by hom oor te neem, is gekritiseer as ‘n aanduiding dat die 90-jarige Mubage nie sy mag aan buitestanders gaan afstaan nie. 

Zimbabwe worstel al ‘n geruime tyd om sy regeringsamptenare se salarisse te betaal weens kontantvloei-probleme. Die hoë werkloosheidskoers en lae ekonomiese aktiwiteite in die land is nog kwessies wat onrus kan veroorsaak.

Mugabe het pas teruggekeer van ‘n besoek aan China, waar hy geld gaan bedel het.

Foto – Grace Mugabe