Skotte dans op ‘n swaardpunt

Die Skotte se openbare mening oor onafhanklikheid van Brittanje lyk asof dit inderdaad op ‘n baie dun swaardpunt, Skotse danse uitvoer.

Met net nog ‘n week oor voordat die Skotte op 18 September ‘n referendum oor onafhanklikheid  hou, is daar ’n politieke wipplankryery aan die gang namate een na die ander meningsopname se uitslae bekend gemaak word.

Die jongste meningsopname van Survation (5 – 9 September) toon dat die nee-stem met ses punte tot 53% gestyg het. Die Survation-opname is gedoen in die vyf dae periode na ‘n YouGov-opname, waarin die ja-stem vir die eerste keer ‘n meerderheid gekry het met ‘n 51% steun.

Die Survation-opname wat pas bekend gemaak is, toon presies dieselfde marge as twee maande gelede toe 47,6% beoog het om nee te stem en 42,2% ja wou stem (die 10% onseker-stemme is hierby ingesluit). Indien die 10% onseker-stemme uitgelaat word in die jongste Survation-opname dan is die uitslag 53% nee en 47% ja.

Grafieke wat die gemiddelde van die onderskeie meningsopnames oor ‘n tydperk aantoon, bewys dat die steun vir die nee-stem en ja-stem al hoe nader aan mekaar beweeg en ook ‘n kruispunt bereik het (soos in die geval van die YouGov-opname). Sommige grafieke gee tot soveel as 85 meningsopnames weer wat tussen Februarie 2013 en September vanjaar gedoen is. Statistiese berekeninge, waarby die jongste Survation-opname ingesluit is, sal moontlik die ware tendens beter op ‘n grafiek kan interpreteer en uitbeeld.

Intussen het Brittanje se top-politici kragte saamgesnoer om persoonlik in Skotland ‘n veldtog vir die nee-stem te voer. Die Britte se beloftes van ‘n devolusie van mag aan die Skotte kry soms selfs ‘n effens patetiese klankie, veral as die ongewilde Britse eerste minister, David Cameron, dit verwoord. Hy het in ‘n toespraak in Edinburg vertel dat sy hart gebroke sal wees indien die Skotte sou besluit om weg te breek.

Die Arbeidersparty se leier, Ed Miliband, het op sy beurt in Cumbernauld ‘n beroep gedoen op die harte, siele en verstand van die Skotte in die maak van ‘n keuse. Die adjunk-eerste minister van Brittanje, Nick Clegg, is ook in Skotland om die Skotte te probeer oortuig om deel van die 307 jaar oue unie met Brittanje te bly. 

Benewens die politici, voer sakelui asook openbare figure ‘n verbete stryd om die Skotte vir of teen onafhanklikheid te laat stem.

Foto – Nick Clegg