Skotse onafhanklikheid kry momentum

Die moontlikheid dat die “ja-stem” in die komende Skotse referendum oor onafhanklikheid op 18 September kan wen, lyk baie positief.

Die ondersteuning vir die ja-stem het volgens die jongste meningsopname tot sy hoogste steun tot op datum gestyg en staan nou op 47%.

Die jongste opname deur YouGov Plc vir die Times en Sun koerante toon dat die ja-stem besig is om momentum te kry in die aanloop tot die referendum. Die nee-stem is met 53% net nog ses punte voor die steun vir die ja-stem. Dit is 14 punte laer vir die nee-stem sedert die middel van Augustus en ‘n daling van 22 punte sedert vroeg verlede maand.

Die kiesers wat onseker is, is nie by hierdie syfers ingesluit nie en dit is juis hierdie steun waarna beide die ja- en nee-stem vry. En om meer spesifiek te wees, vrouens gaan ‘n deurslaggewende rol speel in die referendum oor Skotland se toekoms.

Die wedloop is tans in volle swang tussen die ja en nee-stem om vrouens te oortuig om vir hulle onderskeie veldtogte te stem. Vrouens vorm met 11% (teenoor 4% mans) die oorwig kiesers wat nog onseker is oor wie hulle gaan steun.

Nasionale gesondheidsorg en welsyn is van die kwessies wat baie hoog op die agenda van al twee die kampe is om mense finaal te oortuig van hulle onderskeie sienings.

Indien die Skotse ja-stem sou wen, sal dit die einde beteken van ‘n 307 jaar lange uniale verbintenis met Engeland.