Politieke kruispad vir ANC

‘n Politieke kruispad, het vir die ANC en die bewind se president, Jacob Zuma, aangebreek.

Al die aandag word die afgelope tyd sedert hy sy nuwe kabinet vir sy tweede bewindstyd saamgestel het, gefokus op Zuma se kat en muis speletjies.

Volgens regskenners ondermyn hy die regstelsel en Grondwet deur hom nie te steur aan die aanbevelings in die openbare beskermer (OB) se Nkandla-verslag nie.

Te midde van al die streke om aanspreeklikheid te ontduik, is die Zuma-krisisse besig om verder te verdiep. Boonop word alle middele en instellings ingespan om sake te vertraag en Zuma te beskerm.

Op die kantlyn is daar sporadies ‘n vertoning aan die gang in die parlement.  Een van die hoofrolspelers is die EFF-leier, Julius Malema, wat dreig om die parlement  onregeerbaar te maak. Dit gaan glo gebeur as president nie die “regte antwoorde” gee oor die Nkandla-opgraderings wat niks met sekuriteit te make het nie.

Volgens Malema maak dit nie saak dat hy en sy EFF-parlementslede vir veertien dae geskors kan word nie. Hulle sal maar net weer terugkeer en eis: “betaal die geld terug”. Strenger maatreëls is blykbaar ingestel om te voorkom dat die EFF weer die parlement in wanorde sal kan laat ontaard. Dit is egter duidelik dat dit nie as ‘n afskikmiddel dien nie, maar word eerder in bepaalde kringe beskou as ‘n manier om Zuma teen ongemaklike vrae te beskerm en om te voorkom dat die ANC in die verleentheid gestel word.

Die speaker van die nasionale vergadering Baleka Mbethe, het gedreig dat sy al die EFF-lede gaan skors na die opstootjie wat hulle onlangs in die parlement oor die Nkandla-sage veroorsaak het. Sy is intussen glo tot Maandag kans gegee deur die EFF om aan te dui wat haar planne omtrent hulle skorsing is.

Nog ‘n dooiepunt is die feit dat vyf politieke partye intussen geweier het om verder saam te werk met die ad hoc-komitee oor Nkandla weens verskille oor die ‘terme van verwysing’ asook die voorgestelde voorsitter.