Poetin trap vas oor Oos-Oekraïne

Russiese troepe is na bewering in die twee stede gesien wat deur die rebelle in die oostelike deel van die Oekraïne beset word.

Dit beteken dat daar ook nou amptelik oorlog teen die Russe gevoer word, aldus die Oekraïnse owerheid.

Die Russiese troepe is in Lugansk en Doenetsk asook op ander plekke regoor die oostelike deel van die land opgemerk.

Volgens die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) is daar sowat ‘n 1 000 Russiese soldate in die Oekraïne en nagenoeg 20 000 saamgetrek op die grens tussen die twee lande.

Die afgelope tyd het die rebelle ‘n sogenaamde derde front geopen in die kusstrook wat aan die See van Asof grens. Met die nuwe suksesse van die separatiste teen die regeringstroepe kan Oekraïnse grondgebied in die hande gekry word om sodoende ‘n korridor te vorm wat Rusland met sy Krim-gebied, sal verbind. Die Krim-gebied is in Maart vanjaar deur die Russiese ‘oorgeneem’. Die separatiste veg vir ‘n onafhanklike gebied in oostelike Oekraïne, waar die meerderheid mense as Russies-sprekend getipeer word.

Rusland volhard daarmee om die beweringe te ontken, maar videomateriaal van Russiese soldate wat in die Oekraïne aangekeer is, is onlangs vertoon. Dit is gedoen slegs enkele ure voordat die Russiese president, Vladimir Poetin en sy Oekraïnse eweknie, Petro Poroshenko, samesprekings in Belarus gevoer het.

Onlangs is aangekondig dat ‘n tweede konvooi vragmotors met noodvoorrade na die Oekraïne gestuur gaan word. Die vorige konvooi het ondanks hewige teenkanting, eenvoudig die grens oorgesteek en die voorrade by Lugansk afgelaai en teruggekeer na Rusland.

Intussen word berig dat grootskaalse propaganda veldtogte deur Westerse lande in die spanningsvolle gebied versprei is wat die werklike toedrag van sake al moeiliker bepaalbaar maak.

Foto – Petro Poroshenko