Poetin spreek die jeug toe.

Tydens ‘n twee-en-‘n-halfuur vraag en antwoord sessie het Rusland se president, Wladimir Poetin, die jeug van sy land toegespreek en ingelig oor aktuele sake.  

Hy het hulle daaraan herinner dat in die ou dae daar met die Russe gespot is deur te sê dat "enigiets wat die Russe aanraak eindig met ‘n Kalashnikov. 

"Vandag wil dit voorkom asof enigiets wat die Amerikaners aanraak, eindig met Irak of Libië." 

Hy het ook gesê dat die Verenigde Nasies ‘n moeilike taak het want daar is dikwels botsende menings, maar dit is die enigste manier om tot langtermyn besluite te kom. Hy meen wel dat die organisasie moet her-organiseer en die instrumente wat tot sy beskikking is, beter aanwend. 

Die organisasie gaan sy doel verloor as dit slegs as ‘n instrument gebruik word om die buitelandse beleid van een land, soos Amerika en sy bondgenote te dien. Daarom moet die fundamentele beginsels van die VN bewaar word. In die besonder moet die Veiligheidsraad die mag hê om te besluit oor sanksies en die gebruik van militêre mag. 

Poetin het die militêre aanval op twee stede in die Oekraïne vergelyk met die Duitse inval gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Toe het die Duitsers ook stede soos Leningrad omring en ongewapende burgers gebombardeer. 

"Nou doen Kiëf dieselfde en doop dit ‘n militêre-humanitêre operasie. Dit sal beter wees as die verskillende belangegroepe om ‘n tafel ontmoet," het hy gesê. 

Hy’t voortgegaan en gesê hulle is nie dom nie. "Ons het kennis geneem van Victoria Nuland se beloftes wat beteken dat daar ‘n volskaalse betrokkenheid deur die VSA en Europese nasies in die proses van ‘n gewelddadige, onwettige omvêrwerping van ‘n regering was. 

"En dele van die wêreld wat nie saam met onwettigheid gestem het nie, word onderdruk deur vegvliegtuie, missiele en tenks. As hierdie vandag se Europse waardes is, is ek diep geskok," het hy gesê. 

In soverre dit die Krim betref, het hy weer bevestig dat Rusland nie die streek beset het nie. Hulle het die bevolking die geleentheid gegee om self te besluit.  

Hy sê as hy vandag terugkyk na wat in Donbass, Lugansk, en Odessa gebeur het, is dit reg dat hulle hul mede-Russe beskerm het. 

Hy het die jong gehoor ook daaraan herinner dat die laaste berigte oor die afskiet van die MH17-vliegtuig van Maleisië, was ongeveer 7-9 Augustus. Sedertdien heers daar net ‘n doodse stilswye. Amerika het steeds nie met getuienis teen Rusland vorendag gekom nie en die inhoud van die swart boks is ook nog nie bekend gemaak nie. 

Hy het dit ook beklemtoon dat Rusland een van die sterkste kernkragmoondhede is. Hy sê dit nie as ‘n dreigement nie, want hulle dreig niemand nie en beplan ook nie om in grootskaalse botsings betrokke te raak nie, maar dit is belangrik dat elkeen in Rusland veilig voel en daarom sal uitbreidings op die gebied voortgaan.