Outonome lugvoertuie vir nood ingespan

Hulpverlening in die geval van nood aan ontoeganklike of afgesonderde gebiede gaan met rasse skrede vorder met behulp van outonome lugvoertuie.

Die tegnologiese reus, Google, het die outonome lugvoertuie (algemeen bekend as onbemande vliegtuie) gebou om goedere af te lewer.

Die projek is deur Google X, die maatskappy se tegnologiese navorsingsafdeling wat ook verantwoordelik is vir ‘n selfbestuur-motor, ontwikkel. Die projek is al twee jaar aan die gang en is geheim gehou tot Google dit bekend gemaak het.

Die langtermyndoelwit daarvan was om onbemande lugvoertuie te ontwikkel waarmee rampverligting gegee kan word deur hulp in afgeleë gebiede af te lewer. Klein items soos medisyne kan geneem word na mense in gebiede, waar konvensionele voertuie nie kan kom nie. Die outonome lugvoertuie sal ook diens aan ‘n groot hoeveelheid mense in ‘n noodtoestand kan verskaf.