Op die Volksakker – Volksmoord kom in vele vorme

Danksy die onvermoeide ywer van Projek 2010 word die vlam van herinnering brandend gehou, sodat die volksmoord waaronder die Boere-Afrikaner gebuk gaan onthou word, en onthou sál word.

Hierdie werk kan kwalik oorwaardeer word, soos die hartseer en bitter van die slagoffers en die wat agterbly kwalik onderskat kan word: en hierdie is ´n gevoel wat ons nie mag goedkoop maak vir eie gewin of populariteit nie.

Maar tog gaan volksmoord veel wyer as die fisiese uitwissing van ons volk en moet ons daaraan óók aandag gee.

Wanneer ´n volk se volks-geheue, volks-kultuur en sy volks-erfenis vernietig word, maar veral wanneer ´n volk se kinders geestelik en kultureel vervreem word, is die slag gelewer en sal die volk ten gronde gaan!

Niemand lewe vir altyd nie en daarom het ons vyande hul visier op ons kinders gestel: en dan moet net tyd verloop.

Van die laaste slag om Belhar op te dwing ten spyte van die duidelike polities-rewolusionêre aard daarvan is genoeg gesê en geskryf.

Die hernieude aanslag op ons historiese erfenis kom, soos te wagte, in die vorm van naamsveranderinge, weer in en om Pretoria.  Miskien is die algehele omdolwe van die stad se paaie en die gepaardgaande verwoesting van jakaranda’s ´n stil, beskuldigende metafoor vir ´n volgehoue, onderduimse aanslag op óns erfenis.

Vandag is daar ook die nuus van ´n hofaansoek teen Christelike godsdienspraktyke in skole: die spesifieke skole is dan ook (verbasend?) skole met eg Afrikaanse name.  Die adder hiervoor verantwoordelik bak die gebruiklike mooi broodjies van “grondwetlike regte” en dat hy “niemand vyandig is nie”, maar naas die Afrikaanse skole en Christen tradisies skreeu die afwesigheid van alle ander (af)godsdienste, kulture en tale ten hemele.

Niks onder die son is nuut nie: Konstantyn se kortstondige opvolger wou die Christendom reeds in c. 360 n.C. probeer stuit en sy strategie was eenvoudig – weer Christen-onderrig uit die skole!

Stalin en Mao se uitwissingsveldtogte was ewe-eens nie beperk tot volksmoorde nie: hulle het volkere se kultuur-historiese erfenis deels vernietig, maar deels ander inhoud aan gegee – en laasgenoemde het die kultuur in ´n gifbeker laat ontaard!

Van die kommentare, of afwesigheid van kommentaar, op hierdie gebeure is veelseggend.  Wat egter opval is die skraal kommentaar van ons Afrikaner-adel, wat wel-besproke en sonder banaliteit hierdie aanslae blootlê.

Dit dring die bitter vraag aan ons op:  “hoe ver het my volk nie verval nie?”

Maar dit dring ook weer eens Dr Malan se vraag aan elkeen van ons op: Afrikaner Quo Vadis?

Ons volk is soos in 1836 en 1838, 1880 en 1899 met die rug teen die muur:

maar anders as in daardie era’s is ons geestelike bandoliers bykans leeg;

saam met die horde buite ons volkslaer het die ’scout’ van eergister en verbyjaer van weleer gereïnkarneer in die verdorwe ‘volksorganisasies’ van gister, wat saam met “verligte afrikaners” verwytende vingers wys, saam klippe optel, saam assegaaie slyp …

Die tyd om laer te trek loop vinnig uit; ons staan meer as ooit in ons geskiedenis voor ´n Rubicon, maar moet hier kan die hartseer feit van grootskaalse volksverraad nie langer misgekyk word nie.

Dit is ook tyd dat ons besef die aanslag vir ons te groot is, dit was altyd: die geestelike en kulturele volksmoord is besig om ongesiens ons volk te vernietig, omdat ons die AntWoord misken deur ons eiewilligheid: iets waaraan ons almal skuldig staan in minder of meerdere mate?