Onsekerheid oor skietstilstand in Oekraïne

Baie versigtige optimisme heers oor die moontlikheid om ‘n skietstilstand in die Oekraïne te sluit.

Rusland, die Oekraïne en pro-Russiese rebelle gaan in die hoofstad van Belarus, Minsk, vergader om te kyk of hulle ‘n ooreenkoms kan bereik.

Westerse lande maak egter gereed om nog sanksies teen Rusland in te stel indien die samesprekings sou misluk. Die sekretaris-generaal van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), Anders Fogh Rasmussen, is glad nie baie optimisties nie en het gewaarsku dat Rusland se vorige aanbiedinge omtrent ‘n skietstilstand slegs rookskerms was.

Hoewel hy versigtig optimisties is, hoop die Oekraïnse president, Petro Poroshenko, dat die konflik in die oostelike deel van die land beëindig kan word.

Sowat 2,600 soldate het al omgekom en honderde duisende burgerlikes is ontwortel weens die gevegte tussen die rebelle en regeringstroepe.

Die gevegte duur intussen onverpoosd voort in die kusstrook aan die See van Asof, waar die rebelle ‘n sogenaamde derde front met Russiese hulp geopen het.

Groot huiwering heers om Rusland openlik van ‘n inval te beskuldig, maar die nuut toegeruste rebelle word eerder militêr gehelp om ‘n onafhanklike grondgebied te verower.

NAVO-leiers het op die eerste dag van hulle tweedaagse beraad in Wallis ooreengekom om nog finansiële hulp aan die Oekraïnse weermag te gee en om beter mediese behandeling aan gewonde soldate te voorsien. Die Russiese president, Wladimir Poetin, het baie ernstig teen NAVO se betrokkenheid by die Oekraïne gewaarsku.

Die situasie in die gebied waar die gevegte voortduur, is as baie verwarrend en plofbaar beskryf.

Foto – Anders Fogh Rasmussen