Ongewilde Obama moet daadkrag toon

Die Amerikaanse publiek is oorweldigend ten gunste van strenger optrede teen die terroriste van die Islamitiese Staat (IS) in Sirië en Irak.

Volgens die uitslag van ‘n meningsopname deur Washington Post-ABC News steun Amerikaners lugaanvalle in die twee lande omdat hulle meen dat die IS-terroriste ‘n wesenlike bedreiging vir Amerika inhou.

Hierdie mening kan rigtinggewend wees vir president Barack Obama se samesprekings met die kongres en sy daaropvolgende toespraak oor hoe hy reken die IS-bedreiging aangespreek moet word.

Maar Obama se gewildheid het tot ‘n rekordlaagtepunt van 43% gedaal. Dit is die laagste sedert hy president geword het. Meer as die helfte van alle Amerikaners meen dat sy presidentskap ‘n mislukking is, hoofsaaklik omdat hy oorversigtig is ten opsigte van internasionale sake.

Die Amerikaanse publiek en bepaalde senators se aandrang dat Obama Amerika se militêre optrede teen IS-terroriste moet uitbrei, is waarskynlik beïnvloed deur die onthoofding van die twee Amerikaanse joernaliste, James Foley en Steven Sotloff, deur hierdie ekstremiste.