NAVO hou beraad oor Rusland

Die Noord-Atlantiese Verdrag Organisasie (NAVO) het glo op strawwer maatreëls besluit wat toegepas gaan word op Rusland.

Die maatreëls word toegepas nadat die NAVO-beraad wat in Wallis gehou is, besluit het om die aanbevelings van die regering van Amerika te aanvaar.

Volgens die mening van die Amerikaanse president, Barack Obama, moet die Russe se aggressie in die Oekraïne sterker teengestaan word, en dit bring mee dat sterker maatreëls teen Rusland ingestel moet word, en daarom kan verwag word dat die Amerikaners ook die Europese Unie sal opvorder om meer sanksies teen Rusland in te stel.

Die moontlikheid bestaan egter dat NAVO nie groot sukses gaan bereik met sanksies nie, aangesien die Europese lande tot ’n groot mate afhanklik is van die handel met Rusland in die tyd van ekonomiese struikeling wat ondervind word.

Na verwagting sal reis-beperkings ingestel word, wat nie juis ’n groot invloed op die Russe sal uitoefen nie.

Die sekretaris-generaal van Navo het gewaarsku dat Rusland se optrede die grootste sekerheids-bedreiging vir Europa inhou sedert die Koue Oorlog, maar dr. Merkel van Duitsland het gemaan dat Westerse lande nie oorhaastig moet wees met sanksies nie.

.