Miljardêr volhard teen SA-valutabeheer

Die uitslag van die miljardêr, Mark Shuttleworth, se hofstryd om die hele Suid-Afrikaanse valutabeheerstelsel ongrondwetlik te laat verklaar, word nog allerweë afgewag.

Dit sal egter die land se ekonomiese stabiliteit in gedrang bring indien die Appèlhof in Bloemfontein wel in sy guns sou beslis, meen kenners.

Uitspraak is onlangs voorbehou in sy appèl teen ‘n R250 miljoen heffing  wat deur die SA Reserwebank aan hom opgelê is sodat hy sy bates in 2009 uit die land kon neem. Hy woon tans in die Isle of Man.

Indien ‘n uitspraak in sy guns voor die einde van die huidige termyn van die Appèlhof teen September 20 gegee word, sal dit die minister van finansies en die Reserwebank se vermoë om die land se finansiële stabiliteit te beskerm, ernstig raak.

Regter Francis Legodi van die hooggeregshof in Pretoria het vroeër besluit om Shuttleworth se aansoek te verwerp om die hele art.9 van die Wet op Valuta en Banksake en al die valutabeheerregulasies ongrondwetlik te laat verklaar. Die regter het wel Shuttleworth se aansoek toegestaan deur art.9(3) van die wetgewing en bepaalde dele van die valutabeheerregulasies ongrondwetlik te verklaar.

Dié heffing is afgeskaf ’n jaar nadat Shuttleworth die laaste van sy bates uit die land geneem het.