Michael Schumacher tuis

Michael Schumacher se rehabilitasie vir ‘n ernstige hoofbesering na ‘n ski-ongeluk in Desember verlede jaar, sal by sy huis in Switserland voortgesit word.

Inligting oor die ware toedrag van sake is skaars, maar daar word beweer dat hy nie kan praat nie en slegs deur die knip van sy oë kan kommunikeer.

Behalwe om te sê dat hulle baie gelukkig is om hom weer tuis te hê, het sy familie nie hierdie bewering erken of ontken nie.

Schumacher is in Junie uit ‘n medies-geïnduseerde koma bygebring. Volgens inligting is sy herstel stadig, maar nietemin genoegsaam dat hy sy rehabilitasie by sy huis kan voortsit.