Metropolisie van aanranding aangekla

 

‘n Strafregtelike saak is by die Edenvale polisiestasie teen twee lede van die Kemptonparkse metropolisie geopen nadat hulle ‘n motoris en sy vrou aangerand het.

Die motoris, Malcolm Brown, is naby die Modderfontein-pad deur ‘n metropolisielid van die pad af getrek omdat hy glo nie by ‘n rooi robot gestop het nie. Brown het aan hom gevra hoe dit moontlik was dat hy kon sien die robot was rooi aangesien hy baie ver daarvandaan gestaan het.

Die metropolisieman het aan hom gesê dat hy die gereg is, waarna nog twee metropolisielede nadergestaan en op hom geskreeu het. Brown is hierna rondgestamp en teen die grond vasgedruk toe hy ‘n ‘n video-opname van die metropolisie-voertuig se nommerplaat met sy loopfoon wou neem.

Sy vrou het ook deurgeloop toe sy nadergekom het. Hulle kinders het alles gadegeslaan en gegil terwyl hulle ouers aangerand word. Brown het besluit om eerder spore te maak en sy vrou gegryp, in hul voertuig gespring en die polisie gebel.

Die metropolisielede het weggery en hy het probeer om hulle te agtervolg, maar hulle het 120 km in ‘n 60 km spoedsone gery.