Lesotho steeds onstabiel

Die veiligheidsituasie in Lesotho bly op ‘n mespunt weens die politieke onstabiliteit waarin hierdie Afrika-staatjie gedompel is.

Die Suid-Afrikaanse president, Jacob Zuma, is tans in Lesotho om glo ‘n vredesooreenkoms wat baie kort gelede deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) beding is, te probeer beredder. Die SAOG-ooreenkoms is ernstig in die weegskaal omdat die magstryd tussen die eerste minister, Tom Thabane en sy adjunk, Mothetjoa Metsing, steeds nie uitgestryk is nie.

‘n Voormalige aanvoerder van weermag en genoot van Metsing, Tlali Kamoli, het hom met sy ondersteuners, grofgeskut en wapens in die berge ingegrawe. Kamoli word daarvan beskuldig dat hy kort gelede probeer het om ‘n staatsgreep in die land uit te voer en dat hy kop in een mus met Metsing is. Sy weiering om afstand te doen van sy posisie en die moontlikheid van ‘n aanval het sy opvolger dringende hulp by die SAOG laat soek.

Weens al die onstabiliteit weier Thabane om die parlement te heropen, alhoewel hy hom daartoe verbind het tydens die SAOG-vredesooreenkoms. Thabane vrees egter dat ‘n mosie van wantroue in hom ingestel sal word, en hy dan finaal sy magsggreep in die koalisie regering sal verloor.

Foto – Tlali Kamoli