Koalisie moet IS-terroriste vasvat

Die ekstremiste van die Islamitiese Staat (IS of ook bekend as Isil of Isis) dreig om ‘n tweede Brit tereg te stel kort nadat die Britse hulpwerker, David Haines, onthoof is. Die IS-terroriste dreig om Alan Henning, wat as ‘n vrywilliger by ‘n hulpkonvooi gewerk het, ook tereg te stel.

Die Britse eerste minister, David Cameron, het in sy reaksie na ‘n noodvergadering oor veiligheid gesê alle moontlike stappe sal gedoen word om die laksmanne te jag en hulle te laat boet vir hulle dade. Cameron het ook gemeld dat sy regering plaaslik en oorsee deurlopend ‘n strategie teen terroriste volg om sodoende groter veiligheid te verseker. Behalwe die hulverlening wat Brittanje reeds verleen in die stryd teen die IS-terroriste, het Cameron nie onderneem om direk deel te neem aan Amerika se lugaanvalle in Irak teen die militante groepering nie.

Haines is verlede jaar in Sirië deur IS-lede ontvoer en as ‘n gyselaar aangehou. Hierdie militante groep het reeds twee Amerikaners tereggestel. Daar word aangevoer dat dieselfde Britse IS-terroris, wat die Amerikaners se laksman was, ook vir Haines onthoof het. Sy teregstelling is net soos in die geval van Amerikaners s’n op ‘n video vasgevang en die beeldmateriaal is die wêreld ingestuur.

Intussen is Australië een van eerste lande wat sy hulpverlening duidelik uiteengesit het om die Amerikaners te steun in ‘n koalisie teen IS. Verskeie Arabiese lande het aangebied om deel te neem aan die lugaanvalle teen die IS-terroriste in Irak. Amerika voer al vir etlike weke lugaanvalle in Irak uit en die teregstellings van die Amerikaners is uit weerwraak daarvoor gedoen. Britse militêre hulp aan Amerika het gelei tot die jongste voorvalle van weerwraak.