Katalane aangevuur deur Skotse inisiatief

Die groeiende entoesiasme oor Skotse onafhanklikheid vuur honderdduisende Katalane vanjaar aan om op 11 September aan die "Diada"-nasionale dag deel te neem.

Vanjaar vind dit boonop presies ‘n week voor die Skotte se referendum oor onafhanklikheid op 18 September plaas.

Vir die Katalane is “Diada”-dag vanjaar ook besonder belangrik omdat dit deel vorm van hulle veldtog om op 9 November is sogenaamde ‘konsultasie’ (eintlik maar ‘n referendum) oor onafhanklikheid van Spanje te hou.

Vanjaar word reuse betogings beplan deur die Katalane wat sê: “die Skotte maak ons jaloers en vuur ons woede aan”. Die bekendmaking van ‘n YouGov-meningspeiling waarin 51% steun vir Skotse onafhanklikheid gegee is, het ook op ‘n baie strategiese tyd plaasgevind en stook die onafhanklikheidsvure in Katalonië net nog verder aan.

Die ondersteuners van Katalaanse onafhanklikheid beoog om vanjaar in die sentrale deel van Barcelona saam te trek om ‘n reuse letter, “V”, vir die woorde: “Votar” (stem), “Via” (pad), “Volutat” (wil) en “Victoria” (oorwinning)  te vorm. Net soos verlede jaar maak dit deel uit van die sogenaamde “Katalaanse pad”-veldtog vir onafhanklikheid en word vanjaar al sedert Julie regoor die land gevoer.

Volgens organiseerders het meer as 455 000 mense reeds geregistreer om deel te neem aan die betogings, waartydens hulle die rooi en geel Katalaanse vlae en die slagspreuk,“Die tyd is nou”, gaan vertoon.

Die hewige teenkanting van die Spaanse sentrale regering teen die Katalane se onafhanklikheidstrewe ontlok groot woede. Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajou, het tydens sy laatste ontmoeting met Katalonië se president, Arthur Mas, in Julie gewaarsku dat die ‘konsultasie’ op 9 November baie beslis nie gaan plaasvind nie.

“Diada”-dag word beskou as die dag waarop die Katalane hulle onafhanklikheid verloor het. Op 11 September 1714 is Barcelona deur Spaanse en Franse magte ingeneem tydens die Oorlog van Opeenvolging.