Hof-skieters nog op vrye voet

‘n Hoëvlak polisietaakspan is op die been gebring om te soek na drie swart mans wat op 19 Augustus tydens ‘n skietery by die Pretoriase landdroshof ontsnap het.

Twee van die mans het op ‘n hofordonnans losgebrand toe hy hulle uit hul aanhoudingsel na die hofsaal wou neem. ‘n Polisieman het ‘n ernstige kopwond opgedoen toe hy die ordonnans te hulp gesnel het.

Die twee mans het na die hysbakke gehardloop en ‘n motor voor die hofgebou gekaap. ‘n Derde man wat pas vroeër op aanklagte van huisroof verskyn het, het in die harwar ontsnap. Sy ontsnapping is eers ‘n dag later deur die polisie ontdek.

Ernstige kommer heers oor die feit dat die twee mans wat ook op aanklagte van huisroof en die besit van ongelisensieerde wapens sou verskyn, ‘n vuurwapen in die aanhoudingselle in die hande gekry het. ‘n Verdere skaduwee word gewerp op die polisie en korrektiewe dienste se sekuriteit omdat die ontsnapping van die derde swartman eers ‘n dag later ontdek is.

Volgens die polisie het altwee die gewonde polisiemanne goed aangesterk.