Franse president loop op gespande tou

‘n Baie beslissende week lê voor vir die ongewilde Franse president, Francois Hollande se politieke loopbaan.

Een van die sake wat sy lot sal bepaal, is die mosie van vertroue wat in sy herskommelde koalisie regering gestel moet word. Hollande kan dalk net nie die paal haal nie, want die linkse faksie in sy eie party, die Sosialiste, mag dalk nie eens opdaag nie of hy kan net nie genoeg steun van ander linkse vennote kry nie. In die geval van ‘n verkiesing lyk die kanse ook maar baie skraal vir hulp aan die regterkant.

Hy hou ook Donderdag een van sy twee perskonferensies wat hy jaarliks toestaan. Hierdie keer sal hy ongemaklike vrae moet beantwoord oor sy vorige ‘lewensmaat’, Valérie Trierweiler, wat hy vir ‘n veel jonger weergawe verruil het. Die vrae sal na verwagting veral kom uit haar boek wat ‘n wegholsukses is.

Binnelands gaan dit baie sleg met die Hollande-regering weens die beoogde teiken vir die vermindering van Frankryk se begrotingstekort wat nie gehaal is nie. Verder is ekonomiese groei na ‘n laer koers van 0,4% aangepas en werkloosheid is steeds aan die styg.

Indien Hollande se regering wel ‘n mosie van vertroue sou kry, gaan dit maar ‘n opdraende stryd wees om die 2015-begroting vroeg in Oktober goedgekeur te kry. 

‘n Baie onlangse meningspeiling toon dat 62% Franse meen Hollande moet voor die verstryking van sy termyn in 2017 bedank.